Vivienne Gunning
26 Feb
26Feb

Ek wil vertel, maar ek hou myself al lank terug. As ek begin, sal dit wees soos 'n oopgedraaide kraan wat nie weer toegedraai kan word nie. Indië... daar is díé anderste Indië, en die een wat aan besoekers verkoop word – die betowerende toneel wat toeriste lok. Vinnig maak hulle 'n wye draai van twee tot drie weke, tik mooi Indië af (en dit ís ongelooflik!), en keer dan huis toe met die mooiste foto’s, die helderste kleure. Hulle vang gesigte vas, voete en hande wat stories fluister, en donker oë so diep soos poele waaruit jy geen geheim kan steel nie. Maar... daar is geen denkborrels wat bo die oppervlak breek nie, geen werklike insig in hierdié nou wêreld nie. Die mooi is toegedraai in stories, dis geskiedenis. Maar wat van die hede? Wat weet ons? Namaskar en Namaste. Wat bly oor? 'n Vlugtige geselsie, 'n kort, huiwerige gerammel in ons ore.Die eerste keer wat jy hier aankom, het jy nie tyd vir die nuwe Indië nie. As jy in drie-ster akkommodasie bly, raak jy net bewus daarvan as dinge jou irriteer en nie op standaard is nie. Dalk is hulle skoon nie ons skoon nie, dalk is die linne muf. Skielik besef jy hier is biljoene mense. Waar bly almal? Hoe bly hulle? Wat is noodsaaklik om te oorleef? Wat maak hulle so nederig, so "humble," so dankbaar?Omdat ek altyd die mooi soek, omdat ek die stories met my lens probeer vasvang, bly ek ook nie heeltemal eerlik nie. Ek kies wat ek wil sien – die buitengewone, die visueel skouspelagtige – en in daardie keuse lê 'n stil swyg oor die res.Die eerste keer in Indië was ek op 'n private jet. Van een pragtige hotel na 'n ander – die mooiste mooi, ongelooflike gasvryheid, hotelle wat havellis of paleise was, skoon lakens, jasmyn wat in die lug hang, stringe nekblomme. En ek moés terugkom. Die aas het in die water gehang.Benoud en heeltemal, (of sal ek sê heel mal)alleen, vertrek ek vir drie maande na die suide, na Kerala. Dit was 'n goeie alleen-begin. Hier kan jy nog asemhaal. Effens Portugees, heelwat Hollands en 'n bietjie Brits met 'n Indiese stempel het Fort Kochi my teen die res van Indië "beskerm." Geen begroting nie, en ek werk elke dag met gewone mense. Stadig word die sluiers opgelig. Ons het tyd om te gesels – met die hulp van Google Translate. Ek begin hierdie wêreld verstaan, maar ek weet nog steeds niks. Groot-oog, gefassineerd, glip my dae verby.
Ek begin in sink raak – met die geure en reuke, die mense, honde, bokke en olifante, tuk-tuks en sy-paadjie sitters. Alles geverf in borrie en brandrissies. Messegoed verdwyn en vingers vergeel.
Ek verruil wyn vir soet masala-tee. Ek maak vriende, leef redelik beskerm en is na drie maande halfhartseer toe ek huiswaarts keer. Indië is in my hart.So keer ek weer en weer terug. Weet julle, 'n mens beleef 'n plek in lae. Die eerste keer is jy verwonderd. Die tweede keer bekommerd. En so gaan dit aan – tot jy eendag vasgevang word in die realiteit van hierdie lewe en jy geïrriteerd en bedonnerd is!
Hier in die hart van Delhi, waar die speserymark ruik na kardemom en komyn, staan ek toe die dag tussen hope geure en mense. Maar my oë bly gly na die vroue teen die mure, soos speserybotteltjies netjies gerangskik – sommige met flikkerende oë en lokkende glimlagte, ander net stil, waggend. Dit is nie die geur van kaneel of naeltjies wat hulle verkoop nie, maar iets anders, iets wat ek nie in my notaboek oor Indië gemerk het nie.
Ek wonder hoe hierdie wêreld funksioneer. Wie koop, wie verkoop, en hoekom lyk dit so alledaags, asof almal reeds weet hoe die transaksie werk – behalwe ek. 'n Man met 'n skerp gesig en 'n selfversekerde stap verdwyn agter 'n dun gordyn, 'n ander kom uit, sy hemp regtrekkend, sy oë gefokus op niks in die besonder nie. Hy stoot nie waentjies met sakke rond nie, verkoop nie speserye nie.  Hy is ‘n handelaar. Dis 'n roetine, 'n ritme, 'n stelsel so oud soos die speserye self.
Ek stap verder, my sintuie oorweldig deur die botsing van wierook en realiteit. In Indië is daar altyd 'n ander storie agter die een wat jy gekom het om te sien. En net soos my lysie, moet my verstaan van hierdie wêreld ook kort-kort hersien word. Daar is baie van alles in Indië – baie mense, baie koeie, baie honde, baie treine, baie busse en baie vliegtuie. Vlugte is nogal duur, want Indië is groot. Die kortstes duur so 'n uur, die langstes kan tot drie-en-'n-half uur strek. Kos is volop, en met moed in my skoene begin ek treine en slaapbusse ry. Maar dit is 'n ander storie. As jy dit een of twee keer vinnig doen, is dit snaaks, maar na  vele rye( een selfs 29 uur weet ) jy hoe die sleeper-treine en busse werk en hoe dié liewe landgenote slaap en snork. Natuurlik ry jy net AC 2 of Executive. Na baie ritte dink ek self dit is die moeite werd om INR 1000-1500 te betaal vir 'n eerste klas treinrit. 

Comments
* The email will not be published on the website.